Met rys, ja

Ons land is ’n mengelmoes van koskultuur. ’n Smaaklike, liplek-lekker pot propvol speserye, stories, geskiedenis en erfenis.

Ondanks beperkings van vel-pigmentasie en ’n gebrekkige vermoë om ’n tulband te bind, sou ek nogal ’n goeie Indiër gemaak het. Want vir solank as wat ek kan onthou, was kerrie my gunstelingkos.

Soet boerekerrie met appelkooskonfyt, bekbrand-vindaloos, bunny-chows en skerp vegetariese geregte, eksoties en smaaklik ... my gevoel vir kerrie deel my uitkyk op worshonde: ek het nog nie een ontmoet waarvan ek nie hou nie.

Daar is waarskynlik genoeg kerrieresepte om te sorg dat mens elke dag van die dekade ’n ander weergawe kan nuttig. En hoewel gekruide, forse kerries die gewildste is, moet mens nie vergeet van meer delikate, aromatiese weergawes nie. Soos hierdie geurige en ligte groen hoender-kerrie. En dit is so maklik ek maak dit sommer oor die vuur in ’n pot, vir ’n afwisseling op die gewigtige swaarheid van die gewone en getroue potjiekos. Maar, uiteraard, kan dit ook oor die stoof berei word – mits Eskom en Kie dit toelaat.

Bestanddele

4 bakhande vol vars koljander (danja of dhania, soos jy verkies)

10 ontbeende hoenderborsies, sonder vel

4 sprietuie

3 huisies knoffel

3 tot 5 vars rissies, afhangende van hoeveel woema jy soek

1 blik (400ml) kokosneutmelk

Sap van 2 suurlemoene

2 eetlepels olyfolie

1 eetlepel suiker

1 eetlepel matige kerriepoeier

1 teelepel sout

1 eetlepel gewone kookolie

AKSIE


Sny hoenderborsies in blokke wat groot genoeg is om in die mond van ’n normale mens te pas. Sit hoender in bak en gooi suurlemoensap oor, asook die suiker en sout. Roer deur en laat staan in rus en vrede vir 30 tot 40 minute, verkieslik in ’n koel plek tensy jy ’n dringende begeerte het om salmonella op te doen.

Neem koljander, knoffel, olyfolie, kerriepoeier en rissies. Ruik en kyk daarna. Heerlik. Besluit nou hoe jy dit als saam so fyn as moontlik kan kry. Fyn soos in ’n pasta. Jy kan dit met ’n baie skerp mes fyn opkap en dan met die mes se rand verder stamp. Jy kan ’n voedselverwerker gebruik. Of, as jy baie slim is en jy’s op pad elders heen, maak jy die pasta in jou voedselverwerker by die huis en karwei dit in ’n Tupperware, in ’n koelkas . (Die geure raak net beter hoe langer dit saamstaan.)

Gaaf. Nou maak jy jou pot warm oor die kole. (Boepens- of platboompot is fyn.) Gooi kookolie in. Wag tot die olie ’n rokie gooi. Plaas hoender in pot, sonder marinade. Roer hoender tot bleek-bruin gebraai oor die matige hitte. Voeg oortollige marinade by en reduseer tot ’n karamelagtige stroop terwyl dit heeltyd geroer word. Gooi nou daardie groen pasta van jou by en roer totdat die hoender met die pasta bedek is.

Laat kom daardie dik en romerige kokosneutmelk. Roer deur tot als begin prut. Maak die pot half toe. Prut vir 20 minute. Kap sprietuie op en voeg by jou pot. Prut vir nog 5 minute, en daar is hy.

Bedien op rys saam met ’n tamatie- en uieslaai en spoel af met ’n yskoue ongehoute chardonnay of ’n sauvignon blanc.