Die 

boomhuis

My pa se gesin was groot. Dit was lekker, want daar was baie ooms en tannies waar ons altoos gaan kuier het. Een van my bestes was oom Paul en tannie Annie wat daar naby Tzaneen in die Magoebaskloof gebly het.

My oom Paul was ’n lekker ou. Sulke dik arms en ’n borselkop. Hy het moeite met my gemaak. Hulle kleinhoewe was langsaan ’n groot plaas met perde. Ons het gaan ry, ek en hy. Gaan visvang en loop in die klowe. Avontuur.

Dié keer by ons aankoms was daar ’n nuwe verrassing. In die agterplaas was daar ’n reuse- moepelboom. Die groot braaiplek was onder dié boom. Maar bo in die boom het oom Paul ’n boomhuis gebou.

“Dis jou slaapplek vir die aand, boeta,” sê oom Paul na ons met die leertjie op is tot bo. Daar was ’n dikke bedrol en alles in. Avontuur, dis my oom Paul.

So lê ek in die boomhuis en sien die laaste bietjie vuur wat flikker-flikker verdwyn. Tot dit stil is en net die krieke en paddas praat.

Die aand kuier ons almal ’n uil uit ’n boom uit om daai braaiplek. Later, met die vuur wat so begin noustrop trek en ek wat al begin dink om die leer op te vat kooi toe, vertel oom Paul van koning Makgoba, hy waarna Magoebaskloof vernoem is. Terwyl hy vertel van Makgoba wat onthoof was en van al die spoke van die goudprospekteerders, keer die groot ou reuse-ooruil terug boom toe. Ek weet nie of dit geredigeer was nie, maar net daar hou oom Paul op praat vir ’n oomblik. ’n Oomblik waarin die uil hoe-hoe vra.

“Hulle sê hier is ’n goudprospekteerder wat ’n knapsak goudklonte gesteel het en hier verby is. Reg hier by ons. Blykbaar het hy – omtrent net hier waar ons nou is – in die gees van Makgoba vasgeloop. Hy het so geskrik, sy knapsak die lug ingegooi en gehardloop. Sedertdien kom hy altyd, as dit volmaan is soos vanaand, hier verby en vroetel onder die boom. ‘Waar is my goud? Waar is my goud? Wie het my goud gevat?’ kreun hy dan.” So vertel my oom Paul.

“Nou ja, boeta, is jy reg vir slaap?” My ma wil nog keer, maar ek is op boomhuis toe. Avontuur, sê ek jou.

So lê ek in die boomhuis en sien die laaste bietjie vuur wat flikker-flikker verdwyn. Tot dit stil is en net die krieke en paddas praat. Ook ’n bietjie-bietjie hoe-hoe van die uil. My oë raak swaar. Ek wil nou nêrens anders wees nie.

Dan hoor ek: “Waar is my goud? Waar is my goud? Wie het my goud gevat?” in ’n kreunende stem. Ai oom Paul, ek skrik nie vir ’n koue spook nie, dink ek en raak aan die slaap.

Die volgende oggend, voor daai kloof nog regtig lig vat, koggel ’n kwêvoël my wakker. Ek rek uit, strek regop en dink aan gisteraand. Ek moet sê, ek lag bietjie oor oom Paul se laaste poging.

Toe vat ek die leertjie af ondertoe, op soek na koffie en beskuit. Lekker. Net daar waar die leer en die moepel se wortels byeenkom sien ek dit. ’n Dofblinkende goudklont.

“Waar kry jy dit?” is al wat oom Paul vra soos ek dit vir hom wys.

ADDRESS: TOPS at SPAR 4 Danie Joubert Street, Tzaneen, 0850.

BUSINESS HOURS: TOPS at SPAR trading hours as per government regulations

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141