Kaaps-

Portugees

In Portugal se warm Dourovallei trap hulle die ryp druiwe met ’n ritmiese liedjie in die kelders. Rosyntjies, pruime, sultanas en speserye met ’n tikseltjie hout is van die aromas en geure wat mens op die gefortifiseerde wyn kan kry.

Die edel soetwyn genaamd port moet deesdae onder ander name in Suid-Afrika verhandel word as dit nie afkomstig is van sy ware oorsprong-gebied, synde die Dourovallei in die noorde van Portugal nie. Dus word ons plaaslike port, wat in die geheel van uitstaande gehalte is, gemaak onder die name van Cape Tawny, Cape Ruby en Cape Vintage.

Dit is een van die lieflikste dranksoorte, veral gedrink met ’n homp sterk Cheddar-kaas of terwyl daar aan ’n goeie sigaar geteug word.

Maar port gee ook ’n indrukwekkende ryk, wynagtige geur aan verskeie geregte wanneer hierdie wyn in die kookproses gebruik word.

Hiermee, Portugese hoender – met port. (En nee, Portugese hoender is nie peri-peri nie.)

Bestanddele

1 koppie koekmeel

1 eetlepel paprika-poeier

1 stewige hoender in agt stukke gesny

2 eetlepels olyfolie

2 blikkies tamaties

4 repies spek, in blokkies gesny

12 heel klein uitjies, geskil en vir een minuut geblansjeer in kookwater

2 soetrissies, in repe gesny

6 olyfhuisies, fyngedruk

4 takkies vars pietersielie

4 lourierblare

½ koppie tanige portstyl-wyn

½ koppie droë witwyn

1 eetlepel Dijon-mosterd

1 eetlepel tamatiepasta

Metode

Voorverhit die oond tot 180°C. Meng die meel en paprika in ’n bak, tesame met ’n paar draaie sout en swartpeper. Neem elke hoenderstuk met sorg, liefde en deernis en sleep hom deur die meel sodat die vleis ’n meel-kleed dra.

Verhit die olyfolie in ’n gepaste diep pan of skottel bo-op die stoof. Plaas die hoenderstukke in die warm olie, wikkel totdat die kiep goudbruin is. Bewaar die vetterige sap in die pan of skottel.

Rangskik die hoender in ’n groot oondskottel. Bedek met ’n kleurryke, geurige laag bestaande uit die tamaties, spek, uitjies, soetrissie, knoffel, pietersielie en lourierblare. Dit lyk reeds goed genoeg om te eet, maar hou uself in.

In die pan of skottel waarin die stukkies hoender gebraai is kom daar nou die witwyn en die tanige portstyl-wyn. Bring tot kookpunt op die stoof, en haal van die hitte af. Voeg mosterd en tamatiepasta by, roer deur en dompel die vogtige inhoud by die pot waarin die hoender en ander goed lê en wag. Plaas nou die groot hoenderpot op ’n warm stoofplaat totdat als borrel. Maak die oond oop, tel die skottel met sy dekselhoof op en plaas in die verhitte ruimte.

Die hoender gaan sag en gaar kook binne een tot nog ’n ander halfuur, afhangende van die gehalte van die hoender – plaashoenders kook byvoorbeeld langer as hul battery-gedrewe eweknie. Maar wanner die vleis sag en gaar is – maar nie van die been afval in repe nie – haal die pot uit die oond.

Gebruik ’n tang om die hoender tot in ’n plat opskepbak te skuif. Sit dit pot waarin die hoender was en die oorblywende sous nou terug op die stoofplaat en verdik deur af te kook. Botter en meelblom kan ingeroer word om ’n sysagte beslag te vorm.

Giet oor hoender, skep oor rys, pasta of kapokaartappel.

Bedien met ’n vol witwyn soos gehoute chardonnay of chenin blanc. En later, laat die kos sak terwyl jy ’n glasie Cape Tawny, koel gemaak, inneem met enorme selfbehae.

BACK TO TOP